Die Voortrekkers

Kaapland

    Op Vorms  
 

Tuis
PD's
Verkenners
Volwassenes
Bemarking
Terreine
Oorde en Kommandos
Publikasies
Allerlei
Gebiedsdagbestuur
Kontak Ons

 

 

Gaan kyk gerus solank na die video wat op die kamp gemaak is by

http://www.youtube.com/watch?v=W2-bilZ_XkA&feature=related

Dis regtig goed (Webmeester)

 

BOKNES SELFBEHOUDKAMP

Vanaf 1992! Kies die lewe...

 

 

 

Waar vind Boknes Selfbehoudkamp plaas?

Die kamp het aanvanklik op ‘n plaas net buite die dorpie Boknes, tussen Port Alfred en Alexandrië in die Oos-Kaap plaasgevind. Vanaf 2003 vind dit egter plaas op ‘n pragtige plaas by name Klein Kaba, net buite Alexandrië.

Hoe het selfbehoud begin?

Die idee van selfbehoud het by Oom Werner Louw ontstaan. Oom Werner Louw het gesê dat toe die eerste kamp op Lunsklip in Transvaal in 1962 plaasgevind het, daar drie eenvoudige oorwegings daarvoor was:

  • Eerstens was oom Werner oortuig daarvan dat daar opnuut geleentheid geskep moes word vir Verkenners, en spesifiek stadskinders, om die natuur beter te leer ken.
  • Tweedens moes daar voorsiening gemaak word dat die jeug wat dan meer bewus is van hulle afhanklikheid van die natuur, groter dankbaarheid teenoor God sal openbaar deur met groter sorg die natuur te beheer en te bewaar.
  • Derdens is gepoog om Verkenners op avontuurlike wyse te laat besef dat hulle as enkelinge en as lede van die Afrikanervolk aan die bodem van ons vaderland verbind is.

Later het die gedagte van Selfbehoud bygekom. Dis die behoud van die natuur aan die een kant en die behoud en begrip van die Afrikaner se Bybels-Christelike kultuur en herkoms aan die ander kant.

‘n Visie is iets wat nooit werklik tot voleinding gebring word nie maar is iets waarna altyd gestreef word. Oom Werner Louw se visie was juis vir jou, die Verkenner van vandag. Dit was juis vir ‘n tyd soos nou. Boknes was nog altyd behoudend ten opsigte van die eie van die Afrikaner en sal dit altyd wees.

Kom ons kyk vir ‘n oomblik wat Selfbehoud se bydrae was in die Voortrekkers:

  • Die Selfbehoud kenteken is geskryf deur oom Chris Jordaan, ‘n vorige kampleier van Lunsklip, by  wie die gedagte ontstaan het om die jong Verkenner aan te moedig om dit wat eie is aan die Afrikaner en sy kultuur-historiese erfenis, op te pas en daardeur sy voortbestaan te help verseker.
  • Daar is verskeie kampe wat die selfbehoud kenteken aanbied, Veldwerk sowel as Waterwerk kampe. Ons kan hier dink aan Boknes, Thaba, Seejol, Roodeplaat en Wilgedraai. In Kaapland word selfbehoud aangebied by Boknes in die Oos-Kaap en by  Buitepos Selfbehoudkamp in die Wes-Kaap.
  • Boknes Selfbehoudkamp se kampleier en stigter is ‘n oud Lunsklipper. Oom Willem Petzer het vanaf 1978 tot 1992 op Lunsklip gekamp. Op een of twee uitsonderings na het al die offisiere van Boknes Selfbehoudkamp ook self selfbehoud by Boknes gedoen.

Wat is Boknes Selfbehoudkamp se doel?

Ons wil sien dat Afrikaner jongmense in die toekoms selfbehoud toepas en persoonlik daarna streef om ‘n verskil te maak in Suid-Afrika en in die wêreld. Verder wil ons aan jou die uitdaging en avontuur bied om regtig jou grense te verskuif.

Hoe doen Boknes Selfbehoud dit?

Dit is eintlik baie eenvoudig: Deur jou  te leer hoe om selfbehoud toe te pas en dan aan te spoor om ‘n verskil te maak.

Wees bietjie meer spesifiek. Hoe leer julle my van Selfbehoud?

Ons leer jou van Selfbehoud deur jou uit jou gewone omgewing (lees: gemaksone) uit te haal en dan “op te lei” om jouself te handhaaf in die veld en by die see in ‘n situasie wat buite die gewone, voorspelbare en alledaagse is. Ons leer jou dan om iets te waardeer van dit wat God aan jou gelaat het en ook hoe om dit op te pas. Wanneer jy dan terugkeer huis toe, kan jy beter verstaan dat groente nie in die blikkie gekweek word nie maar iemand moet werk om dit daar te kry.

Hoe werk Boknes Selfbehoudkamp se opleiding?

Jy ontvang uitstekende opleiding by bekwame en bedrewe offisiere wat jou lei om te verstaan hoe die veld, die see, die kus, die ekosisteem en God se skepping werk met ‘n verskil: die soort opleiding wat jy kry is dieper en meer prakties as enige ander lesing wat jy tot op hede oor die veld of see gekry het. Wat meer is, jy leer wat dit beteken om die skepping te onderwerp met die verantwoordelikheid wat daarmee gepaard gaan.

Wat is Selfbehoud?

“Selfbehoud is die proses van waarneming, waardering en bewaring van natuur en kultuur deur die Afrikanermens in die uitvoering van sy Godgegewe kultuuropdrag om Sy Skepping te bewerk, te bewaak, te heers oor alles wat lewe en om mede-Afrikaners  te leer om alles te onderhou wat God ons vanuit sy Woord-en Skeppingsopenbaring beveel het.”

Wie gaan Boknes Selfbehoud  toe?

Enige Graad 11 of 12 Verkenner  is welkom op Boknes Selfbehoudkamp. Oor die jare het ons wel gesien dat nie alle jongmense van Selfbehoud hou nie en het gesien dat jongmense met die volgende behoeftes gewoonlik die is wat die beste in die kamp inpas . Dit is nie uitsluitlike behoeftes nie maar beskryf die meeste jongmense se behoeftes wat by die Boknes Selfbehoud familie aansluit:

    • ‘n Sterk wil om doelgedrewe te werk;
    • ‘n Sterk behoefte aan uitdagings en om nugter uitdagings die hoof te bied;
    • ‘n Sterk wil om jou identiteit as Christen-Afrikaner te ondersoek;
    • ‘n Sterk behoefte om jouself te leer ken en beter te verstaan;
    • ‘n Sterk behoefte aan kwaliteit verhoudinge met mense;
    • ‘n Sterk behoefte om God beter te leer ken;
    • ‘n Behoefte om ‘n sin vir humor uit te leef – skerp of droog, vinnig of stadig;
    • ‘n Behoefte aan orde en integriteit;
    • ‘n Behoefte om ‘n meetbare verskil te maak in die wêreld – lees: om dinge gedoen te kry;
    • ‘n Behoefte om jou beste te gee of om uit te vind wat jou beste is;
    • ‘n Behoefte om die grense wat jyself en ander aan jou stel te verskuif;
    • ‘n Behoefte om ander mense te leer ken wat ook hierdie behoeftes het.

Ek het al gehoor van die Keurkamp. Wat is dit?

Selfbehoud is ‘n proses en werk soos volg:

    1. In Graad 11 kom kamp jy as ‘n Verkenner wat die Selfbehoud kenteken doen tydens die April skoolvakansie by Boknes Selfbehoud Kamp.
    2. As jy jou Selfbehoud kenteken suksesvol afgehandel het word jy uitgenooi na Keurkamp. Dit is ‘n kamp wat plaasvind aan die begin van Graad 12 waar jy jouself deur ‘n proses sit om in ‘n keurgroep in te kom. Tydens die keurkamp word jy gekeur vir óf die Buitegroep óf die Kerngroep. Jy maak tydens die keurkamp self die keuse in watter groep jy wil wees. Hierdie kamp vind plaas die laaste naweek voor die skole in Januarie begin.
    3. Die Buitegroep oorleef vir die duur van die kamp op hulle eie buite die kamp. Hulle toets die Verkennerkampe op Boknes dorp en die Selfbehoudkamp se wagstelsels deur onder andere kampaanvalle. Hulle word die Selfbehoudkamp se vyande.

 

BUITEGROEP 2010

 

 

    1. Die Kerngroep kamp binne die kamp en is verantwoordelik vir die pret en plesier in die Selfbehoudkamp en veral die morele ondersteuning van die Selfbehouders. Hulle doen dit deur musiek, morele ondersteuning, kampvuurkonserte en opvoerings en vele ander metodes.

OUD BOKNES-SELFBEHOUDER NICHOLIS LOUW TYDENS ‘N KERNGROEP KONSERT

    1. In die April skoolvakansie van die jaar in Graad 12 kom jy dan terug Boknes toe as ‘n Keurgroep lid wat jouself bewys het op die keurkamp.

Na jou keurgroepjaar in Graad 12 kan jy die Veldwerkkursus vir volwassenes wat as die Trekbokkursus bekend staan, op Boknes Selfbehoudkamp kom doen. Daarna sluit jy by ons aan as volwaardige lid van die Boknes familie.

Hoekom is Keurkamp so taai?

Buitegroep en Kerngroep is die toets vir jou Selfbehoudopleiding – Buitegroep meer fisies en Kerngroep meer geestelik. Keurkamp is die plek waar jy jouself bewys as iemand wat “opgelet” het in jou Selfbehoudopleiding en wat die hoogste sport in Selfbehoud wil bereik. Keurkamp is die plek waar jy jouself meet om te kyk hoe sterk daardie behoeftes is wat ons hierbo genoem het. Benewens vir die HW/PV kamp is Buitegroep of Kerngroep is die uiteinde van jou Verkennerloopbaan as kampeerder.

‘n Keurkamp is ‘n kamp waar jy gekeur word. Ons besef egter dat daar Verkenners is wat nie noodwendig daarna streef om vir 7 dae in die veld te oorleef of daardie spesifieke soort uitdaging wil aanvaar nie. Hulle het wel dieselfde behoeftes as wat ons hierbo van praat, maar soek ‘n ander uitdaging. Vir daardie Verkenner is daar ‘n alternatief: ‘n keurgroep, die Kerngroep, wat gemik is op die avontuur sonder die oorlewingservaring. Net soos vir Buitegroep, gaan jy egter deur ‘n keuringsproses om te wys of jy dit wil en kan doen of nie.

Wanneer jy terugkeer in Graad 12 as keurgroeplid, kan jy en ons met meer sekerheid sê of jy Selfbehoud kan toepas of nie. Om dit te kan doen stel ons jou bloot aan situasies waar jy opoffer en ontbeer.

Enige verdere vrae? Kontak gerus die kampleier by: wilpet99@mweb.co.za of sel: 083-236-2826

BOKNES SELFBEHOUD...DIE ERVARING VAN JOU LEWE!

 
 
   

Kopiereg © 2010 Die Voortrekkers: Kaapland